Valiant Swart – Rondry, Fliek en die Buitelewe
Valiant Swart besoek weer Die Atterbury Teater vir ‘n heerlike aand van liedjies en stories – sommige diep en ernstig, ander vrolik en ondeund.
Behalwe vir talle ou gunstelinge soos Sonvanger, Jakarandastrate en Eyeshadow wat aan die bod kom, het Valiant onlangs ‘n nuwe album uitgereik – die eerste een in sewe jaar – met tien splinternuwe komposisies.
Die nuwe album heet ’Rondry, Fliek en die Buitelewe’. Dit is opgemaak uit ‘n reeks karaktersketse, met vryheidstrewes aan die kern daarvan, en nogmaals aangebied met ‘n versnit van humor en melankolie. Saam met Valiant op die verhoog is die kitaarmeester Illimar Neitz, met wie hy al vir meer as vyf jaar saamwerk. Neitz het ook die uitmuntende kitaarwerk op die nuwe album behartig.
Bring gerus jou vriende en geliefdes na die Atterbury Teater vir ‘n aand van top-vermaak!