Refentse en Schalk Bezuidenhout – SWART EN WIT
Refentse en Schalk Bezuidenhout is nie noodwendig die mees voor die hand liggende kombinasie nie. Soveel meer rede om ‘n kaartjie te koop!
In hierdie unieke kombinasie van komedie en musiek kan jy verwag om te huil. Of dit nou is van die lag of Refentse se stem. Maar huil gaan jy huil.
Refentse sal optree met sy volle band – van die beste jazz musikante in die land. Schalk sal optree met ‘n mikrofoon. Shame, die band sal seker hier en daar ietsie in die agtergrond speel tydens Schalk se stories om sy droom van ‘n rockstar wees te verwesenlik.
Hierdie is ook ‘n geleentheid vir Refentse om liedjies te speel wat hy nie noodwendig die kans kry om te speel voor ‘n dronk gehoor in Presley’s nie, so gehore kan uitsien na Refentse soos wat jy hom nie gewoonlik sien nie!
Schalk en Refentse sien verskriklik uit na hierdie vertonings by een van hulle gunsteling teaters in die land en ons hoop jy doen ook.