Skip to content
Facebook - piet

Piet van Wyk de Vries – Die Laaste Show

Atterbury Theatre 4 Daventry Street, Lynnwood Manor, Pretoria 0081

Buy Tickets - 250 ZAR

Piet van Wyk de Vries, die liedjieskrywer agter verskeie liedjies van Mathys Roets, Ricus Nel en Dozi, om net n paar te noem, is geen vreemdeling vir die luisteraars van beter Afrikaanse musiek nie. Hy het ook algemene bekendheid verwerf as solokunstenaar met 4 oorspronklike soloalbums agter sy naam. Van sy liedjies verkoop en word geluister tot vandag toe in alle uithoeke van die wêreld. Hy is al beskryf as een van die beste liedjieskrywers in Afrikaanse geskiedenis, deur verskeie mense, van media tot algemene musiekliefhebbers, tot van die ander meer bekende en erkende beste Afrikaanse liedjieskrywers.

Rondom 2019/2020 het Piet kanker gekry. In 2022 het sy kanker gemetastaseer en oorgegaan na stadium vier toe, met n verwagte lewensuitkyk van maande. Aangesien sy laaste groot teater vertoning by Atterbury Teater was vir sy 40ste verjaarsdag en die vrystelling van sy laaste album “Die Geheime Wêreld van Piet van Wyk de Vries” op 7 Mei 2012, het hy besluit om hierdie hoofstuk van sy lewe af te sluit by dieselfde plek en op dieselfde manier. Dit sal ook ‘n klein fondsinsameling wees vir die mediese kostes wat hy in die laaste jaar moes vat en nogsteeds doen.

Piet sal op die verhoog verskeie gaste ook hê, onder andere Mathys Roets en Marica. (Daar sal definitief ‘n verrassing of twee ook wees.)

In die (hopelik onwaarskynlike) geval dat Piet nie self die vertoning kan bywoon nie, sal die vertoning ‘n Piet van Wyk de Vries “tribute” show word, onder leiding van Mathys Roets en Vriende en steeds dieselfde fondsinsameling wees.

Mens hoor baie in bemarking die termes, “Moet nie hierdie misloop nie” en “Kans van ‘n leeftyd”, maar in hierdie geval is dit werklik beide.

Hierdie sal, tot ons groot spyt, die laaste keer wees wat Piet ‘n verhoog betree en ‘n optrede doen. Dit is jou heel laaste kans om hierdie legende en waarskynlik een van die grootste en beste geheime in Afrikaanse musiek te sien in lewende lywe, in sy element en in sy gunsteling teater. Kom luister na sy liedjies wat jy weet hy geskryf het, ‘n paar wat jy dalk NIE geweet kom uit sy pen nie en kom hoor dit alles uit sy eie mond. Ons hoop ons sien jou daar!