Musiek Soos Grond
MUSIEK SOOS GROND is die eerste van sy soort in die land en die kunstenaars wat betrokke is by die projek, is almal mense met dieselfde hart vir musiek wat as gevolg van ’n sameloop van omstandighede paaie gekruis het. Die konserte is daarop gemik om vir kontemporêre kunstenaars ’n platform te gee om hul hoendervleismooi lirieke, lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog met gehore te deel.
Joshua na die Reën, Douvoordag , Len Muller, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds deel almal die verhoog en voer nie net hul eie verwerkings op nie, maar maak saam musiek deur mekaar se liedere op te voer en te begelei.
Mense in die gehoor, by konserte, is soos grond is waarop musiek val. Elkeen ervaar dit anders en uit daardie belewenis groei daar iets uniek. Daarom wil ons by elke vertoning ’n afwagting, eerder as ’n verwagting skep, sodat almal saam met ons kan kom ervaar hoe die aand uitdraai. Vertonings het ’n baie vloeibare formaat en kan hopelik ’n geleentheid skep vir luisteraars om weer die dieper aspekte van musiek en lirieke te waardeer.