Liewe Heksie – Ana van Achterbergh, Botha Enslin, Elizma Byleveldt & Phillru van Achterbergh
Verna Vels se geliefde Liewe Heksie, wat terloops op 42 April verjaar (ja, 42!), kruip geslag ná geslag diep in kinderharte. Sy sukkel soms met lang woorde, maar gelukkig is Blommie die Kabouter en haar geliefde Mattewis die kat altyd naby om te help. Die jongspan kan nader skuif, want Liewe Heksie en haar kaboutermaats kuier by die Atterburyteater op Donderdag, 5 Oktober. Voor pouse word Liewe Heksie en Botterblom opgevoer. Botterblom is Blommeland se koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf. Maar Botterblom is kwaad. Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie en Botterblom raak baie eensaam. Dan begin die poppe (of is dit nou koeie?) dans. Na pouse is
dit dan Liewe Heksie en die Tuindwergie, waar ons Casper die tuindwerg ontmoet. Toe Casper die tuindwerg op ’n dag wakker word in Liewe Heksie se tuin, is daar drama van begin tot einde. Want wie is dit agter daardie boom? Kan dit ’n stoute Gifappeltjie wees?