KLOPJAG 21
21 jaar gelede was ‘n tyd voor Facebook, slimfone, elektriese motors, WhatsApp of Instagram–filters. Dit was die tyd van Hatfield Square en CD-winkels, die begin van die goue jare van KKNK en AARDKLOP. Daar was selfs gerugte van ‘High Definition‘- TV’s.
In die bekendste TV-reeks in die destydse wêreld, FRIENDS, het Monica en Chandler getrou in die laaste episode van seisoen sewe en ons moes almal vir amper ’n jaar wag om uit te vind wie die pa van Rachel se kind sou wees.
Een Somersaand van daardie selfde jaar, op 13 Februarie 2002 (as mens nou baie spesifiek wou wees) het ‘n nuwe Afrikaanse musiekgroep – KLOPJAG – vir die eerste keer op die verhoog gestap. Vol geesdrif, jongmens-waagmoed en ‘n handjievol van hulle eie liedjies het KLOPJAG met hul eiesoortige mengelmoes van stemme en instrumente hul eerste paar oomblikke van ‘n voltydse loopbaan in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf betree.
Vyf studio albums, drie “live” DVD’s en meer as ‘n 1000 vertonings sou volg. Nominasies vir SAMA, sowel asTEMPO en GERAAS musiektoekennings en verskeie liedjies op trefferparades het hul talent en gewildheid bevestig oor die daaropvolgende paar jaar.
KLOPJAG het ‘n onmiskenbare bydrae gelewer tot die spreekwoordelike golf van nuwe oorspronklike Afrikaanse musiek wat sou volg in daaropvolgende 15 jaar.
Op 26 Mei 2023 nooi die Atterbury Teater alle Klopjagaanhangers uit om vir die eerste keer na die pandemie en slegs vir een aand weer te kom deel maak van ‘n aand gevul met KLOPJAG liedjies en stories soos net hulle dit kan doen. Bespreek jou kaartjies vandag nog vir ‘n aand saam met een van Pretoria se gunsteling uitvoerprodukte.