
Jannie du Toit – Oppiekitaar in samewerking met Pretoria FM
Jannie beplan om sy nuwe produksie getitel OPPIEKITAAR in samewerking met Pretoria FM op 25 Junie 2023 in die Atterbury Teater in Pretoria bekend te stel. Hy bied die program aan in die formaat waarin die publiek hom in die laat sewentigerjare vir die eerste keer as solo-sanger leer ken het, met sy kitaar. Gedurende die vroeë sewentigs was hy lid van die Afrikaanse folk-groep TRILOGIE. Later in dié dekade was hy meestal net met sy kitaar op die verhoog, soms ook vir ’n paar liedjies by die klavier. Sedert die heel eerste MUSIEK EN LIRIEK-konsert in April 1979 in die Laager van die Markteater in Pretoria en ook by sy “Liedjie-aande” in Margaretastraat in Pretoria het hy uitsluitlik sy eie liedjies so gesing – net met sy kitaar.
Ondertussen het hy hom met uiteenlopende musiek besig gehou. Hy het verwerkings vir ‘n groot orkes as begeleiding vir sy musiekblyspele in die 80’s geskryf, jare lank saam met Christa Steyn by die klavier musiek gemaak in kabaret en ander genres en selfs koorverwerkings vir liedjies soos Gee Ons Vrede geskryf. Oor die afgelope dekade werk hy saam met ander instrumentaliste en sangers in ‘n verskeidenheid produksies wat steeds aangebied word.
Sy program OPPIEKITAAR bied hy egter weer soos in die sewentigs net met die kitaar aan. Dié program is ‘n keur uit die talle liedjies wat hy oor die afgelope halfeeu geskryf het. Dit is ‘n verrassend wye verskeidenheid van meer en minder bekende liedjies waarin vrolikheid en nostalgie afgewissel word. Sy liedkuns word deur die jare gekenmerk deur keurige tekste, vindingryke akkoordgebruik en, nou meer as ooit tevore, deur sy bedrewenheid op die kitaar. Sy liedjies is gemik op die fynproewer, maar soos ‘n Liedjie vir Jou van 1978 reeds bewys het, lê daardie woorde en akkoorde ook lekker op die “gewone” oor.