Jan Blohm & Ryno Velvet
JAN BLOHM EN RYNO VELVET SPAN KRAGTE SAAM
Wanneer twee uiters begaafde musikante en liedjieskrywers kragte saamspan om ’n nuwe liedjie én musiekprojek van stapel te stuur, kan jy maar weet dat die eindresultaat ’n reusesukses gaan wees… en nog soveel te meer as dit Jan Blohm en Ryno Velvet is!
Sedert hulle laaste gesamentlike optrede, keer Jan Blohm en Ryno Velvet terug met ʼn splinternuwe produksie wat die gehoor op ‘n reis sal neem van Blohm, Velvet treffers, asóók nuwe materiaal van hulle nuwe album.
Jan Blohm en Ryno Velvet se stemme smelt moeiteloos saam; hulle individuele kitaarspel komplimenteer mekaar.
Die uiters talentvolle kontemporêre kunstenaar, Jan Blohm het lankal reeds die kuns bemeester om bewonderaars se harte vas te vang met sy musiek. Dié bekroonde musikant en liedjieskrywer, het in 2004 sy debuut gemaak in die Afrikaanse musiekbedryf en het sedertdien diep in die harte van sy aanhangers gekruip. Hy is veral bekend vir treffers soos Groen Trui, Word Wakker, Ruby, O My Engel, Klein Karoo, Nonnie en Jenny, wat ook die titelsnit is van sy laaste suksesvolle solo-album. Hy geniet dit om te skilder en beeldhouwerk te doen. Hy is ook die eienaar van Jan Blohm-kunsgalery en Jan Blohm-teater, asook die winkel, Blohmhuis, in die Strand.
Ryno Velvet is ’n veelsydige kitaarspeler, liedjieskrywer en sanger van Bellville in die Kaap. Hy het in 2006 bekendheid verwerf vir sy treffer, Ai My Lam, en maak steeds opslae in alternatiewe Afrikaanse musiek. Hy het reeds vier albums uitgereik en onlangs twee enkelsnitte, Te Naby Die Son en Weskus, vrygestel vanaf sy komende album, Testament.
Hy reis graag en geniet dit om tyd in die buitelig te spandeer. Hy skryf ook gereeld liedjies vir ander kunstenaars.