
Geon Nel – Hoerkind
Die skywerjoernalis Herman Lategan se blitsverkoper, Hoerkind: Die memoires van ʼn randeier, is deur die bekroonde akteur en teaterskepper Margit Meyer-Rödenbeck in ʼn toneelstuk verwerk.
Meyer-Rödenbeck is die regisseur van dié onthutsende boek en het ʼn sterk span byeengebring om as ʼn kreatiewe ensemble aan dié eenmanvertoning te werk. Die gerekende akteur Geon Nel vertolk die hoofrol.
Die titel Hoerkind verwys na die neerhalende kwetswoord wat aan hom as kind tegesnou was, omdat hy buite die eg gebore is. Hy skryf oor sy vroeë grootwordjare in kleurvolle losieshuise vol randeiers (buitestaanders) in Tamboerskloof.
Op ses moes hy na ʼn kinderhuis gaan omdat hulle in armoede geleef het. Later trou sy ma, sy stiefpa skiet op hom en probeer hom verkrag. Op 13 beland hy in die kloue van ʼn pedofiel, ʼn vooraanstaande Afrikaanse kunsjoernalis. Albei sy ouers word alkoholiste en sterf vroeg. Alkohol- en dwelmafhanklikheid ry hom ook. Op ʼn stadium slaap hy op straat.
Een aand word hy in sy woonstel gyselaar gehou en met ʼn mes gesteek. Hy verloor byna sy been in ʼn motorongeluk nadat hy op Mannetjies Roux se plaas gaan kuier het en was vir byna ʼn jaar buite aksie.
Sy foute is volop, maar hy leer soos hy voortbeur. Hierdie is nie ʼn verhaal van selfbejammering nie, dit een van val, opstaan, val en vorentoe beur, kop omhoog.
Meyer-Rödenbeck sê: “In dié teaterstuk leer ken ons Herman as klein seuntjie wat met oorgawe leef, verknog is aan sy ma, maar dan maak omstandighede dit vir hom onmoontlik om by haar te bly.
“Sy lewenspad het baie afdraaie en heel dikwels ontrafel dinge. Die deurlopende tema bly die verhaal van een mens wat ten spyte van alles ‘aanhou beweeg en geraas maak’, vorentoe, met groot sukses. Hoerkind gaan jou bybly en omkrap, want dit is eerlik.”