Gé Sing: Hoor My Lied – André Schwartz, Arina de Witt, Louis Loock, Stephanie Baartman
Dis vanjaar 25 jaar sedert die legendariese stem van Suid-Afrika se eerste ware superster, Gé Korsten, vir altyd stil geword het, en sy lewe, loopbaan en fenomenale talent word gevier in Frans Swart se huldeblykproduksie, Gé Sing: Hoor My Lied! Die eerste speelvak by die Atterbury Teater in Februarie was baie vinnig uitverkoop en juis daarom het Lefra Produksies en Atterbury Teater besluit om GE SING – HOOR MY LIED terug te bring op publieke aanvraag. Bespreek dus vinnig om teleurstelling te voorkom.
Frans Swart, regisseur van Gé Sing: Hoor My Lied sê dit is vir hom ‘n besondere groot voorreg om hulde te bring aan hierdie ikoniese sanger en kunstenaar. “As daar ooit ‘n superster in Suid-Afrika was, dan was dit Gé! Ek was bevoorreg om Gé persoonlik te kon geken het, want as jong kameraman by SAUK-TV, was ek kameraman vir ‘n paar seisoene van die gewilde TV-program, Gé Sing. Daarna het ons baie goeie vriende geword en het ek die mees ongelooflike respek vir hierdie kunstenaar ontwikkel. Hy was nie net sanger nie, maar hy was ‘n mentor vir soveel mense in die bedryf. Hy was gesinsman, adminstrateur, vriend, akteur, sanger, orator, vegter vir die opera en legende!”
In die produksie Gé Sing: Hoor My Lied word oudiovisuele argiefmateriaal teen ‘n skerm geprojekteer om die gehoor ‘n oorsig oor sy werk te gee, asook insigte oor Korsten as kunstenaar, mens en vader te bied. Sy musikale nalatenskap word op ‘n vars manier herinterpreteer deur van die land se voorste kunstenaars: André Schwartz, Louis Loock, Arina de Witt en Stephanie Baartman. Die produksie spog met ‘n volle orkes onder leiding van musikale regisseur, Chanie Jonker. Die regie en teks deur Frans Swart.