
Elzabé Zietsman – Femme is Fatale
Femme is Fatale, wat vir slegs een vertoning by die Atterbury Teater te sien sal wees, is by die pas afgelope Aardklop-kunstefees as die beste algehele aanbieding, beste musiekgedrewe produksie en beste musiekuitvoering aangewys.
In hierdie oorspronklike kabaret gebruik die verhoogveteraan Elzabé Zietsman en pianis Tony Bentel stories en liedjies om die soeklig te gooi op geslagsgebaseerde geweld.
Marna, Lian en Khanyi is drie vroue wat die lewe se uitdagings probeer oorkom om hulle drome van ’n beter lewe te verwesenlik, maar soos met tallose ander vroue, word hulle gekonfronteer deur dieselfde monster.
Zietsman se brawe en onvergeetlike optrede is ‘n geleentheid om haar op haar kruin te sien as meester van kabaret. Sy takel ‘n striemende teks oor die lot van vroue in Suid-Afrika en deur liedjies naatloos te integreer, skep sy ‘n roerende en opregte ervaring vir die gehoor.
Femme is Fatale is ‘n kontemporêre kabaret oor vrouwees, drome, liefde, vriendskap, aanvaarding……en moord.