Skip to content
NOSTALGIE

Amanda Strydom – Nostalgie

Amanda Strydom
Atterbury Theatre 4 Daventry Str. Lynnwood Manor, Pretoria 0081

Event Tickets - 200 ZAR

Die doyenne van die kabaretverhoog, Amanda Strydom, diep nostalgiese herinneringe op in hierdie produksie. ” Nostalgie” sou aanvanklik op die KKNK van 2020 debuteer, maar soos almal weet, is die fees gekanselleer, so ook die KKNK 2021, weens die Covid pestilensie.Daarom is Strydom verheug om uiteindelik die vertoning te kan aanbied by die Atterbury teater.

Onthou jy waar jy was, hoe oud jy was of wat gebeur het as jy ‘n sekere liedjie hoor? Musiek het nog altyd die mag gehad om mense te verenig, te troos en beter te laat voel. Strydom weef oudergewoonte haar liedjies saam met stories vir ‘n onvergeetlike musiekteater ervaring.

Na afloop van die enigste vertoning van ” Nostalgie” by die Pierneefteater, as voorskou voor die geselskap na die KKNK sou vertrek , skryf gehoorlid Hans Moolman die volgende op Facebook: “Daar was liedjies, danksy Amanda se unieke vertolking, wat ek vir die eerste keer GEHOOR het, nuanses en betekenisse wat vir my oopgesluit is, hoewel ek elke woord kon saamsing en die lied met moedersmelk ingekry het. Dit was nostalgie, pure nostalgie, sonder om in heimwee te verval.”

Coenraad Rall is musikale regisseur , verwerker en pianis en Susan Mouton bring met haar tjello daardie teksture wat ‘n diep nostalgie wakkermaak en hartsnare roer. Nostalgie is die regte medisyne vir almal se moeë pandemie nerwe.