Skip to content
Close
EK WENS, EK WENS

Ek wens, ek wens – Frank Opperman

Atterbury Theatre 4 Daventry Street, Lynnwood Manor, Pretoria 0081

Tickets - 220 ZAR

Frank Opperman met Ek wens, ek wens

Ek Wens, ek wens is ‘n fabelagtige verhaal oor Seb, ‘n lykbesorger wat ‘n grys, eenvoudige en ongelukkige bestaan lei. Sy lewe is een van roetine en kleinighede en hy sien lankal nie meer die wonder en grootsheid van die lewe raak nie. Tot hy eendag ‘n engelagtige seuntjie, Gawie, ontmoet. Die magiese gevolge van hierdie ontmoeting noop Seb om te vra: As ek net een wens het, waarvoor sal ek wens? ‘n Ander werk, ‘n klomp geld, beter verhoudings met die mense om my? Wat is vir my belangrik? Wat wil ek die graagste in my lewe hê?

Daarom is die sprokiesagtige Ek wens, ek wens veral geskik vir nou. Met hierdie teks en produksie wil ons die publiek juis dít laat doen: vir ’n oomblik weer fokus op dit wat die lewe wonderbaarlik, eerlik, eg en mooi maak. Om ons kinderlike welwillendheid en onskuld weer te vind.

Zirk van den Berg se sprokie vir grootmense is bekroon met die WA Hofmeyer- sowel as die kykNET-Rapport prys.
“Van den Berg se roman is ’n genot om te lees, is met tye verstommend snaaks, en bied – veral nóú – ’n greintjie beskeie hoop.” (Litnet)

Philip Rademeyer – notas as skrywer en regisseur:
Met my eerste (en tweede, en derde) lees van Zirk van den Berg se boek het hierdie vrae aan my bly krap. Dis veral nóú pertinent, terwyl die wêreld (en veral die kunste) gebuk gaan onder ‘n pandemie wat soveel uitdagings en hartseer meebring. Wat my dadelik opgewonde gemaak het oor hierdie storie is nie net die eenvoudige dog beeldskone manier waarop dit vertel word nie, maar ook die sprokiesagtige betowering wat daarin vasgevang is. Deur die karakters sien ons dat die lewe, al is dit dikwels moeilik of saai, tog ontsettend kosbaar en waardevol is. Dis eindelik ‘n intieme, menslike storie oor hoop, drome en verandering.

Ons werk met ‘n minimale stel en ‘n fokus om met gedetaileerde karakterwerk (en ‘n paar illusies!), die verhaal se betowering vas te vang. Hopelik sal die gehoor sáám wonder waarvoor hulle sal wens as hulle een wens gegun word en saam met Seb (en my en Frank) vir ‘n oomblik weer glo.

Produksie-inligting:

Met: Frank Opperman
Teksverwerking, ontwerk en regie: Philip Rademeyer, na die roman deur Zirk van den Berg
Verhoogbestuur: Jeanne Steenkamp
Vervaardig deur: Alexa Strachan en Anna Davel
Ondersteun deur: NATi, AK21, Aardklop nasionale kunstefees
Ouerbegeleiding: 0/13
Tydsduur: 75 minute